Search:
User name:
Password:

New? Register here for free.

 

 

SMS met Verrykende Gevolge

 

'n SMS kan verrykende gevolge hê.  " Ek het nou net vir 'n kompetisie ingeskryf en ek hoop nie ek wen dit nie" het ek my vrou, Helene,  wat al in die bed was, meegedeel.  "Hoekom? " het sy verbaas gevra. " Die prys word deur Simonsvlei geborg, maar dis nie wyn nie, ons sal moet Nederland toe vlieg om 'n Helmut Lotti konsert by te woon, en dit klink ver vir 'n konsert" het ek gesê, en ek dink sy het iets gemompel dat dit nogal great sal wees.

 

Ek en my vrou Helene boer  net buite Bethlehem waar sy ook 'n gastehuis bedryf. Ons het drie kinders, en ek weet nie wie die blyste was toe Coenie my uit die Kwêla ateljee  bel om my mee te deel dat ek toe wel die prys gewen het nie. My selfoon het drie dae aanhou lui, en ek was nie net verbaas oor hoeveel mense my ken nie, maar oor hoeveel mense Kwêla kyk, en hoeveel mense hul voortande sou gee om Helmut Lotti te ontmoet.

 

Gelukkig was daar nie vir ons blyplek in Amsterdam nie en was ons bevoorreg om na Parys te vlieg, waar ons die eerste twee dae spandeer het. Plaasjapies word 12h00 voor 'n hotel in die middel van Parys afgelaai. Die kamer is nog nie gereed nie, ons is moeg, vreemd, verstaan niks, ek wil huil, my vrou huil! Nadat ons vir 'n halfuur na die treinstasie gesoek het, sien ek dat dit die gat in die grond is waar ons al vier maal verbygestap het.  En toe ons daar onder is, waar almal hardloop en stamp en nors is, toe stuur die Here vir ons 'n engel.  'n Engel met 'n vriendelike gesig, 'n engel wat 'n bietjie Engels kan praat, en sy wys ons hoe die treine werk.  En toe begin ons vakansie, en ek sê cheers op Simonsvlei !!  Binne 24 uur vandat ons uit Suid Afrika weg is , was ons bo-op die Eiffel toring waar 'n reuse rugbybal hang, daar geëet, was ons op 'n bootreis op die Seine rivier en die 'show" by die Moulin Rouge bygewoon, mar toes ons moeg!

 

Die tweede dag, hoef ek nie te verduidelik nie, want enige man wat al saam met sy vrou oorsee was sal verstaan. Shop, shop en nogmaals shop van ons hotel af tot bo by Montmartre. Daar wou 'n kunstenaar my teken, maar ek was bang my vrou sien na die tyd hoe gatvol ek was. Ek grap sommer, gelukkig is die goed so duur dat ek nie veel moes dra nie en die uitsig oor Parys en die atmosfeer van die plek het opgemaak vir alles. Die aand is ons na die Champs Elysees waar ons van bo op die die Arc de Triomphe gehoor het hoe die Franse volkslied in die kroeë weergalm.  Die openingswedstryd was in volle swang teen Argentinië.

 

Die vlug na Amsterdam het my aan Franschhoek in die Kaap laat dink, pure lappieskombers. Vanaf die lughawe het ons per trein gereis deur Holland na 'n dorpie met die naam Assen. Ons het met vriendelike Hollanders gesels wat oppad huistoe was na 'n vyf weke toer in Suid Afrika. Dit was die laaste vriendelike Hollanders. Assen het hul weeklikse mark gehad rondom ons hotel se ingang. Ek en Helene trek ons tasse oor die plaveiselstrate dat jy net wieletjies hoor en die hele gemeenskap gaan staan stil.  Alle verkope van perdewors tot viskoppe word gestaak en ek sê vir Helene " Ek sweer dis die eerste buitelanders wat die mense sien."  Die "De Jonge" hotel was eintlik toe baie gesellig, veral lekker raserig by "Die Hertog" onder ons kamervenster, maar dan weet 'n mens mos gelukkig om 'n ou slaappilletjie saam te vat vir sulke gevalle.

 

Die Helmut Lotti konsert was 'n groot belewenis en het plaasgevind in 'n teater net buite Assen wat my aan ons Barnyard theatre's laat dink. Hy het 'n verskeidenheid gesing, maar toe hy met sy "Out of Africa" songs begin, toe pata pata daai suur Hollandse tannies. Tydens pouse was ons bevoorreg om "backstage" geneem te word waar ons hom persoonlik saam met 'n paar ander gaste ontmoet het.  Helene het hom gevra hoe so 'n klein mannetjie dit regkry om so 'n groot stem te hê, waarop hy geantwoord het dat hy so 'n groot mikrofoon het, maar darem bygevoeg dat hy klein bly omdat hy 40km per week draf.  Dat hy fiks is kon ons in die tweede helfte van die show sien toe hy die krane oopgedraai het.

 

Sondag in Assen was alles toe, ek dink die kerk ook. Van rugby het hulle ook nog nie gehoor nie en ek moes SA vs Samoa met sms'e luister. Terug in Parys kon ons vinnig alles besoek en gaan shop waar ons dalk 'n winkel êrens gemis het. Ek vrek vir koffie en betaal R120 vir twee cappuccino's! Laaste Euro gespend op die lughawe. Vir almal iets gekoop. Rugbytrui vir boetie en die meisiekinders het Franse pafuum, nou wil ek net op daai vliegtuig.

 

Ek klim op vlug SA232 , sien 'n lugwaardin en sê "dumela". Sy draai om, gee my 'n groot glimlag en sê "dumela". Ek dog ek soen haar.  Ek besef dis ons mense en ons gaan huistoe. Ek koop twee koppies koffie vir R12 op Villiers en word met 'n hartlike glimlag bedien. "Ek is lief vir ons mense, dis lekker om terug te wees" sê ek vir Helene.

 

Viva Suid Afrika!

Viva Kwêla!

Viva Simonvlei !!

 

Pieter en Helene Meiring

 

 

 

 

 

 

 

 

Simonsvlei International, PO Box 584, Suider-Paarl, 7624, South Africa
Copyright © 1945 - 2008   |   Disclaimer   |   Search   |   Site map   |   Generated by Rapid-Website   |   Developed by Matogen Corporate Web Development