|
| SMS met Verrykende Gevolge | |
'n
SMS kan verrykende gevolge hê. " Ek het nou net vir 'n kompetisie
ingeskryf en ek hoop nie ek wen dit nie" het ek my vrou, Helene, wat al
in die bed was, meegedeel. "Hoekom? " het sy verbaas gevra. "
Die prys word deur Simonsvlei geborg, maar dis nie wyn nie, ons sal moet
Nederland toe vlieg om 'n Helmut Lotti konsert by te woon, en dit klink ver
vir 'n konsert" het ek gesê, en ek dink sy het iets gemompel dat dit
nogal great sal wees.
Ek en my vrou Helene boer net buite Bethlehem waar
sy ook 'n gastehuis bedryf. Ons het drie kinders, en ek weet nie wie die
blyste was toe Coenie my uit die Kwêla ateljee bel om my mee te deel dat ek
toe wel die prys gewen het nie. My selfoon het drie dae aanhou lui, en ek was
nie net verbaas oor hoeveel mense my ken nie, maar oor hoeveel mense Kwêla
kyk, en hoeveel mense hul voortande sou gee om Helmut Lotti te ontmoet.
Gelukkig was daar nie vir ons blyplek in Amsterdam
nie en was ons bevoorreg om na Parys te vlieg, waar ons die eerste twee dae
spandeer het. Plaasjapies word 12h00 voor 'n hotel in die middel van Parys
afgelaai. Die kamer is nog nie gereed nie, ons is moeg, vreemd, verstaan
niks, ek wil huil, my vrou huil! Nadat ons vir 'n halfuur na die treinstasie
gesoek het, sien ek dat dit die gat in die grond is waar ons al vier maal
verbygestap het. En toe ons daar onder is, waar almal hardloop en stamp en
nors is, toe stuur die Here vir ons 'n engel. 'n Engel met 'n vriendelike
gesig, 'n engel wat 'n bietjie Engels kan praat, en sy wys ons hoe die treine
werk. En toe begin ons vakansie, en ek sê cheers op Simonsvlei !! Binne 24
uur vandat ons uit Suid Afrika weg is , was ons bo-op die Eiffel toring waar
'n reuse rugbybal hang, daar geëet, was ons op 'n bootreis op die Seine
rivier en die 'show" by die Moulin Rouge bygewoon, mar toes ons moeg!
Die tweede dag, hoef ek nie te verduidelik nie, want
enige man wat al saam met sy vrou oorsee was sal verstaan. Shop, shop en
nogmaals shop van ons hotel af tot bo by Montmartre. Daar wou 'n kunstenaar
my teken, maar ek was bang my vrou sien na die tyd hoe gatvol ek was. Ek grap
sommer, gelukkig is die goed so duur dat ek nie veel moes dra nie en die
uitsig oor Parys en die atmosfeer van die plek het opgemaak vir alles. Die aand
is ons na die Champs Elysees waar ons van bo op die die Arc de Triomphe
gehoor het hoe die Franse volkslied in die kroeë weergalm. Die
openingswedstryd was in volle swang teen Argentinië.
Die vlug na Amsterdam het my aan Franschhoek in die
Kaap laat dink, pure lappieskombers. Vanaf die lughawe het ons per trein
gereis deur Holland na 'n dorpie met die naam Assen. Ons het met vriendelike
Hollanders gesels wat oppad huistoe was na 'n vyf weke toer in Suid Afrika.
Dit was die laaste vriendelike Hollanders. Assen het hul weeklikse mark gehad
rondom ons hotel se ingang. Ek en Helene trek ons tasse oor die
plaveiselstrate dat jy net wieletjies hoor en die hele gemeenskap gaan staan
stil. Alle verkope van perdewors tot viskoppe word gestaak en ek sê vir Helene
" Ek sweer dis die eerste buitelanders wat die mense sien." Die
"De Jonge" hotel was eintlik toe baie gesellig, veral lekker
raserig by "Die Hertog" onder ons kamervenster, maar dan weet 'n
mens mos gelukkig om 'n ou slaappilletjie saam te vat vir sulke gevalle.
Die Helmut Lotti konsert was 'n groot belewenis en
het plaasgevind in 'n teater net buite Assen wat my aan ons Barnyard
theatre's laat dink. Hy het 'n verskeidenheid gesing, maar toe hy met sy
"Out of Africa" songs begin, toe pata pata daai suur Hollandse
tannies. Tydens pouse was ons bevoorreg om "backstage" geneem te
word waar ons hom persoonlik saam met 'n paar ander gaste ontmoet het.
Helene het hom gevra hoe so 'n klein mannetjie dit regkry om so 'n groot stem
te hê, waarop hy geantwoord het dat hy so 'n groot mikrofoon het, maar darem
bygevoeg dat hy klein bly omdat hy 40km per week draf. Dat hy fiks is kon
ons in die tweede helfte van die show sien toe hy die krane oopgedraai het.
Sondag in Assen was alles toe, ek dink die kerk ook.
Van rugby het hulle ook nog nie gehoor nie en ek moes SA vs Samoa met sms'e
luister. Terug in Parys kon ons vinnig alles besoek en gaan shop waar ons
dalk 'n winkel êrens gemis het. Ek vrek vir koffie en betaal R120 vir twee
cappuccino's! Laaste Euro gespend op die lughawe. Vir almal iets gekoop.
Rugbytrui vir boetie en die meisiekinders het Franse pafuum, nou wil ek net
op daai vliegtuig.
Ek klim op vlug SA232 , sien 'n lugwaardin en sê
"dumela". Sy draai om, gee my 'n groot glimlag en sê
"dumela". Ek dog ek soen haar. Ek besef dis ons mense en ons gaan
huistoe. Ek koop twee koppies koffie vir R12 op Villiers en word met 'n
hartlike glimlag bedien. "Ek is lief vir ons mense, dis lekker om terug
te wees" sê ek vir Helene.
Viva Suid Afrika!
Viva Kwêla!
Viva Simonvlei !!
Pieter en Helene Meiring
|